top of page

Die studentesdorpe, Potchefstroom en Stellenbosch, deel meer as net studentelewe - hulle het ook die gewilde Akker-restaurant in gemeen. 

Studentedorpe: gedeelde liefde vir Akkers

Liezil Huyser en Anje de Wet

Studentedorpe soos Potchefstroom en Stellenbosch probeer om hul onderskeie kampusse vir die studente en inwoners so aangenaam as moontlik te maak. Unieke winkels, restaurante en kuierplekke word deur kreatiewe entrepreneurs gestig. Potchefstroom en Stellenbosch het nie net dié ingemeen nie, maar ook die asemrowende groen eikebome wat tot in die hemel strek. Die eikebome was die inspirasie vir ʼn paar restaurante se name in díe studente dorpe.

Nie net is Die Akker Koffiehuis op die Bult die oudste restaurant in Potchefstroom nie, maar daar is in vroeër jare troues, onthale en private funksies deur studente en inwoners in dié gewilde restaurant gehou.

Bertus Els, die eienaar van Die Akker en ʼn Potchefstromer al vir 37 jaar, is sedert 2009 die eienaar van Die Akker Koffiehuis. Voor dit was hy betrokke by De Jonge Akker op die NWU se Potchefstroomkampus vanaf 2005 tot 2012.”

Hennie Beukes, die vorige eienaar, het Die Akker Koffiehuis se deure in 1993 geopen en tot vandag toe spesialiseer hulle in koffie, koeke, heerlike drankies en smaaklike maaltye.

Els sê dat, “Die Akker Koffiehuis se naam was destyds geïnspireer deur die Eikelaan. Dié naam is gekoppel aan die omgewing en het ʼn sterk Potch verbintenis. Met Die Akker se begin jare was die fokus op studente. Die plek het intussen groot geword en die atmosfeer het baie verander met tyd.”

Volgens hul Facebook-blad is Die Akker Koffiehuis die ideale plek om die kultuur van die Stad van Kennis, Potchefstroom,  te ervaar. Deesdae word die atmosfeer beskryf as gemaklik en gesellig vir almal, maar tog gesofistikeerd genoeg vir die besigheidsmanne om vergaderings te hou.  “Ons het as ’n koffiewinkel begin en stelselmatig oor die jare in ’n restaurant gegroei, maar is nie ’n net restaurant nie,” het Els gesê.

Volgens Els is Die Akker ontbyt, kos gewys, die gewildste item op die spyskaart.

Vir slegs R60 kan kliënte gebakte eiers, spek, wors, ’n tamatie, skyfies, roosterbrood en sampioene geniet. Buiten die gewilde ontbyt voldoen die res van die spyskaart beslis aan iets vir elke smaak. Van ’n ontspanne omgewing vir ontmoeting met kollegas, tot ’n gesin wat 'n rustige ete geniet of studente wat bymekaarkom vir ’n drankie en nagereg, word die diversiteit van inwoners en besoekers van Potchefstroom deurentyd verteenwoordig.

Boonop, met die 25 jaar mylpaal wat voorlê, kan Potchefstroom in 2018 ’n groot makietie verwag. De Jonge Akker op die NWU se Potchefstroomkampus word op sy beurt beskryf as ’n plek met die beste koffie, tesame met ’n akademiese gevoel, waar studente, dosente en ouers lekker kan sit en kuier.

Beukes het De Jonge Akker se deure in 2005 geopen, aangesien daar ’n behoefte vir dit op die kampus was. “Hennie wou boonop destyd De Jonge Akker verwant maak aan Die Akker en dus toe die restaurant De Jonge Akker gedoop”, sê Els.

 

Wanneer Potchefstroom studente met die trein af toer Stellenbosch toe om vir die Maties studente te kuier, ontmoet hierdie twee groepe wat net hulle studies in gemeen het, mekaar by die bekende De Akker Pub en Restaurant.

De Akker Pub & Restaurant wat geleë is in Stellenbosch, Wes-Kaap, is ook een van die bekroonde restaurante wat na die mooie eikelaan van die dorp benoem is. “Die naam is seker afkomstig van die eikebome,” sê Danlin Peterson die bestuurder van die kroeg en restaurant. “Dit sal een van die dae die oudste kroeg en restaurant in die Wes-Kaap wees,” voeg hy by.

"Die plek is amper soos Oppiekoffie in die televisiesepie 7de Laan" - Peterson

Peterson is al die bestuurder van De Akker vir die afgelope twee jaar en sê hy geniet dit vreeslik. “Hier by De Akker is ons almal ʼn familie. As daar konflik of probleme, is sorteer ons dit onder mekaar uit,” verduidelik  hy.

Die atmosfeer van die restaurant is kalm en rustig. Net soos die mense wat in die strate loop. Die foto’s teen die mure vat jou terug in tyd en laat jou wonder oor die stories wat by op die kroeg stoele vertel is. Karla Geldenhuys, wat al twee jaar saam met Peterson werk, voeg verder by: “Ons is werklik ʼn familie, wat mekaar soms mal maak, maar ons geniet dit”.

Peterson en Geldenhuys sê dat hulle kliënte altyd dieselfde is en terug kom vir nog ’n goeie aand se kuier.

“Stellenbosch studente kuier hier terwyl hulle swot. As hulle klaar geswot het kom hulle altyd terug na De Akker toe, want dit is hulle huis,” beskryf Peterson.

“Hier is baie toeriste tydens vakansies en daar kom altyd nuwe mense, maar die gereelde kliënte wat ons het se voorkeur drankie ken ons al. Natuurlik is hier baie Stormers ondersteuners, want hierdie is mos hulle valley,” vertel Peterson.

“Almal is welkom by De Akker of hulle oud of jonk is, we are open to the public,” basuin hy uit vir die  Stellenbosch inwoners  om te hoor.

“Die plek is amper soos Oppiekoffie in die televisiesepie 7de Laan. As jy van Oppiekoffie praat dan weet almal dit is die koffiehuis is  en net só is De Akker. Dit is dié  kroeg en restaurant in Stellenbosch,”sê Peterson.

“Die plek is vir vriende en familie bedoel, terwyl nuwe vriende gemaak word,’’ voeg Peterson by.

Peterson vertel van ʼn geleentheid waar twee mans appels geswaai het. Die eienaar van De Akker, Simon Matthysen, het hulle albei toe aan hulle krae beet gekry.

“Dit was soos ’n toneel uit ’n film. My baas het hulle uit mekaar uitgeruk. Hy het vir hulle gesê hulle moet ophou en soos regte mans mekaar ʼn handdruk gee en jammer sê…”

“Die mans het mekaar nie geken tot voor die rusie geken nie en is nou na die bakleiery boesemvriende. Hul kom nou steeds terug om saam ’n bier te geniet,” sê Peterson.

 

“En dít is waaroor De Akker gaan. Ons het ook nie streng sekuriteit nie. Soos ek vroeër genoem het, is ons ʼn familie en ons sorteer dit onder mekaar uit.”

 

Peterson sê dit soms uitdagend om die hele kroeg en restaurant onder beheer te hou. Hy vertel van ’ paar geleenthede waar mans sommer met ’n vol glas bier uitstap en vergeet om die rekening te betaal. “De Akker was nie so goed bestuur soos wat dit nou is nie. Die ou De Akker was baie rustiger en nie so streng wanneer dit kom by dissipline nie. Ons is wel baie streng vandat daar ’n nuwe eienaar is, maar die restaurant het nog steeds dieselfde atmosfeer en ervaring soos in die verlede,” vertel Peterson.

Meeste van die banke en tafels is nog van die oorspronklike ou De Akker. Die enigste veranderinge wat aangebring is, is van so aard dat De Akker net opgegradeer is soos die kombuis en banke wat afgeskuur is.

 

Met die kom en gaan van nuwe studente op díe kampusse, pas die twee restaurante aan met tyd. Hier en daar verander die spyskaart of eienaars, maar die hart van die twee restaurante sal altyd gewortel wees in die akkerbome wat aan hulle name lewe gegee het.

 

Elke studentedorp het sy eie kultuur en gewoontes. In Pretoria glo studente vas dat ’n pers Jakarandablommetjie wat op jou kop land, ’n teken is dat jy jou eksamens sal deurkom.

Hier stap die jongmense al van laat September die pers strate plat en jaag die fluweelagtige bloeisels soos hulle na gronde dwarrel. In Potchefstroom en Stellenbosch word die lente weer aangekondig deur die helderste groen akkerblare, en studente wandel tussen klasse in die dorp se strate onder hul reuse groen blaredak.

Wanneer hul 'n koffie wil geniet, kan hulle die reuse bome bewonder vanuit die vensters van hul gunsteling restaurante, wat juis na die groen wolkekrabbers vernoem is.

Foto's: Anje de Wet en Jaco-Mari Futcher

De Akker Pub & Restaurant wat geleë is in Stellenbosch deel dank 'n naam met dié gewilde restaurant in Potchefstroom, maar die atmosfeer verskil.

bottom of page