top of page

Potch se eikebome is baie dors

Meer as net mooi bome

Trek die pyltjie om te sien hoe die eikebome jare gelede gelyk het en hoe dit vandag lyk.

Jaco-Mari Futcher en Raynique Meyer

Na die eerste waterprobleme in 1975, is Potchefstroom se groen sambrele weer vanjaar in die kollig. Natuurliefhebbers, sakelui, inwoners en studente sien rooi gevaartekens wanneer dit kom by die gesondheid van die ikoniese eikelaan van 6,84 kilometer.

 

Die droë en dorre blare hang aan die bome net so gedaan soos die dorp se inwoners. Die inwoners se gejaagde lewens is soos oogklappe wat hul verhoed om te sien hoe die bome besig is om een vir een weens waterstres te sterf. Is dit dalk die finale spyker in die doodskis?

 

Potchefstroom se eikelaan is in 1977 as ’n Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar en is dít die langste in Suid-Afrika. Onder die jongste bedeling is dit 'n graad twee erfenisterrein, wat beteken dit word gesien as 'n Provinsiale Erfenisterrein   Die natuurskoonheid van dié bome is nie al waarvoor inwoners moet baklei nie. Sarel Cilliers, ’n stedelike ekoloog aan die Noordwes-Universiteit (NWU) sê dat “die hele begrip van die ekosisteemdienste die hoofrede is waarom die eikebome só belangrik vir ons is.”

 

 

 

 

 

 

Cilliers sê dat die Amerikaanse navorsers uitgewerk het dat ’n boom van sowat tien meter hoog net soveel koel lug soos vyf lugversorgers wat vir 24 uur aanmekaar aan is, produseer.

 

“Bome reguleer klimaat, want bome transpireer, en verkoel dus die lug rondom hulle. Dit gaan nie net oor die skaduwee nie, maar op die bome se blaaroppervlak verdamp die water en dit gaan gepaard met afkoeling,” sê Cilliers.

 

“Sê die bome word more verwyder, dan sê ek vir julle wat gaan gebeur. Eerstens dit gaan baie lelik lyk, die historiese waarde is weg. Met die eerste reën gaan daar baie groot probleme wees, grootskaalse erosie, baie modder. Dit gaan warmer wees, baie baie warm.” sê Cilliers.

 

Die eikebome kan tot meer as ’n duisend jaar oud word en is nie-inheems. Dit is van Europa afkomstig en benodig sowat 200 na 300 liter water om optimaal te groei.

 

Potchefstroom se historiese laning is in 1910 deur B.R. Gericke aangeplant, maar dié het by die omgewing aangepas en gebruik minder water. Gericke se daaglikse roetine het daaruit bestaan om saam met sy handlanger die jong eikebome met water van die leivore nat te lei.

 

Cilliers verduidelik dat reënwater, wat nie benut word nie, die oplossing tot die agteruitgang van laning is.

 

“Ons belangrikste bron van water bly reën. Ons het net soveel water, ook van die munisipale water. Ons betaal baie daarvoor - vir die boorgate ook. Die hele ding is dat dié bome oorspronklik langs leivore geplant is. Die grond was toe ook nie gekompakteer nie, en die reënwater, waarvan daar baie was, kon by die grond indring,” sê Cilliers.

 

Die gebruik van die leivore is in 1972 gestaak en skaars tien jaar later was dit duidelik dat die bome begin het om swaar te kry. In 1975 het die plaaslike media reeds begin berig oor die eikebome se waterstres. Daar is later besproeiing geïmplementeer, maar dis met tyd beskadig. Hoewel Potchefstroom oor die algemeen goeie reënval het, is dit nie genoeg nie en boonop was die laaste reënseisoen swak.

 

 

 

 

 

Cilliers sê “Daar moet nou vir hulle water gegee word. Ons noem dit ’n groen stormwatersisteem, waar jy reënwater goed benut. Die reënwater moet geoes word sodat die bome en die plante rondom hulle natgelei kan word, maar dit moet ook gebruik word om die grondwatertafel (ondergrondse watervlak) aan te vul. Dit werk so: die plante gebruik die reënwater, en dit wat nie gebruik word nie, gaan terug in die sisteem. Ek dink dis ons antwoord.”

 

Daar is ook luise en swamme wat die bome se gesondheid bedreig, maar die bome kan nog saam met hulle oorleef. Die groot oorsaak van die afname in die bome se gesondheid is waterstres.

 

 

 

 

Die Potchefstroom-sakekamer, wat uit ongeveer 200 aktiewe lede bestaan, is by die bewaring van die eikelaan betrokke. Sommige van die besighede is betrokke omdat die name van hul besighede direk aan die eikebome gekoppel word, maar ander ondersteun dié projekte bloot vir die bewaring van die omgewing. Die besighede van die sakekamer wil ’n gevoel van ’n samehorige gemeenskap skep.

 

André de Villiers, ondervoorsitter van Potchefstroom se sakekamer, sê: “Dit is vir ons belangrik om besighede by die gemeenskap betrokke te kry. Daar moet ’n wisselwerking wees en laat dit ook ons as lede saam staan.”

 

“Die sakekamer dien as ’n databasis van ons lede, wat Potchefstroom Erfenis as ’n kommunikasiemedium kan gebruik. Ons as besighede wil betrokke raak by kwessies wat goed is vir Potchefstroom, want wat goed is vir Potchefstroom, is goed vir die besighede,” sê De Villiers. Hulle bied ’n netwerk van mense en besighede wat hulp en kennis kan bied aan Potchefstroom Erfenis en die sakekamer vervul dus ’n skakelingfunksie tussen die projek en lede van die gemeenskap wat kan help.

 

Die gesondheid van die bome is nie net in die hande van die besighede nie, maar sommige inwoners sit ook hand by. Riaan van der Walt, ’n inwoner met waarskynlik een van die grootste eikebome in die Suidelike Halfrond op sy huis se sypaadjie, versorg dié eikeboom tot die beste van sy vermoë.

 

Skryfkuns-, Forensies-, Omgewings- en Stads en streeksbeplanning-studente aan die NWU is ook gedurende hul studies op hul beurt betrokke by die bewaring en bewusmaking van die eikelaan. Potchefstroom se Kunsmuseum, Suikerbekkies-kleuterskool en besighede soos Tip Top TV’s doen ook wat hulle kan om die eikelaan te bewaar.  

 

Daar is elke ses weke ’n vergaderings waar betrokkenes die kwessie bespreek. Van die betrokkenes help op verskillende maniere - sommiges van hulle help met bewusmaking, finansiëring en die wat nie direk betrokke is nie, help agter die skerms om sowat 312 siek of dooie eikebome van die 747 wat in die eikelaan is, te red. Potchefstroom Herald het vroeër vanjaar berig dat 26 van dié bome plaveisel rondom het en dat daar rondom 18 bome geteer is.

 

Volgens De Villiers is parkering en plaveisel ’n groot probleem omdat dit keer dat water die grond kan indring. “Die ideaal is dat karre nie onder die bome moet kan stop nie, sodat die grond nie gekompakteer kan word nie,” sê De Villiers.

 

Daar is tans drie moontlike oplossings waarna die sakekamer kyk om hierdie probleem te bekamp. Die eerste moontlike oplossing is deurlaatbare plaveisel, maar hierdie opsie is baie duur. Besighede skop egter teen die die ander twee oplossings, alternatiewe parkering en eenrigtingstrate, omdat dit moontlik ’n invloed op die besigheid kan hê. Die deurlaatbare plaveisel is tans die mees realistiese oplossing.

 

 

 

 

 

 

Die sakekamer is druk besig om nuwe eikebome te plant en het 8% afslag gekry met die onderhandeling van die bome. Die instandhouding van die bome val tans onder Parke van die J.B. Marks Munisipaliteit.  “Die stadsraad is baie goedgesind teenoor die projek en het ’n begroting om 20 bome aan te koop.  Hulle het egter 20 bome gekoop en die Historiese Eikelaan Belangegroep het skenkings bekom waarmee nog tien bome gekoop is,” sê De Villiers.

 

De Villiers sê dat die Sakekamer tyd koop met die plant van nuwe bome. “Die bome vat ongeveer 40 jaar om volwasse te bereik. Die bome wat ons aankoop is sewe jaar oud so dis die kleintjies wat ons nou gaan plant.”  Op 1 September is daar ’n nuwe eikeboom voor Die Akker Koffiehuis in Steve Biko Straat geplant.

 

Lennie Gouws, die sekretaresse van Heritage Potchefstroom Erfenis, is die voorsitter van dié nie-winsgewende organisasie se Historiese Eikelaan Belangegroep.

 

Heritage Potchefstroom Erfenis se missie is die bewaring van alle kulturele erfenisse van die gemeenskap van Potchefstroom. Hulle rol ten opsigte van die eikelaan is om alles in hul vermoë te doen om te waarborg dat dit bewaar word.

 

Die organisasie wil graag die media se aandag op die eikelaan hou.

 

“Ons het uitstekende dekking geniet sedert die projek in Februarie vanjaar geloods is. As gevolg daarvan is rolspelers in die bewaring van die eikelaan nie net bewusgemaak van die toestand van die bome nie, maar ook van die bome se behoeftes,” sê Gouws.

 

Met die oog op toekomstige projekte wil die organisasie elke persoon of instansie wat eiendom besit langs die historiese eikelaan motiveer om eienaarskap te neem van die eikebome op hulle sypaadjie.

 

Gouws sê dat dit belangrik is “dat die publiek moet besef dat ons die bome van 'n vorige geslag geërf het - in watter toestand dit ook al is - en dat ons dit aan die volgende geslag moet oorgee in 'n beter toestand as waarin ons dit ontvang het.”

Foto's: Johané van den Berg en Jaco-Mari Futcher

Infografika: Liezil Huyser

Die eikelaan is in 1977 as 'n Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar en kan dié monument by die Kenneth McArthur-stadion se ingang gevind word.

Potchefstroom se eikebome is onder waterstres en vorm dit systingels aan die onderkant van die bas, omrede die boom nie genoeg energie het om, soos normaal na bo te groei nie.

Termiete en dopluise is sekondêre aspekte wat die bome bedreig, want die boom kan nog saam met dit funksioneer. Dit is egter die waterstres wat die primêre rede van die bome se afname in gesondheid is.

Daar is baie individue, groepe en organisasies betrokke by die bewusmaking en welstand van dié pragtige groen bome, maar dit is elke inwoner van Potchefstroom se verantwoordelikheid om te verseker dat hiertoe bome die uitsterf nie. 

bottom of page